Ons is die draers van die boodskap

Die Rapportryers berus op ’n Christelik Afrikaanse grondslag.

Die Rapportryers streef daarna om: Die Afrikaanse taal, sedes en gewoontes soos geopenbaar in sy Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt.

Strewe

Die Rapportryers streef daarna om: Die Afrikaanse taal, sedes en gewoontes soos geopenbaar in sy Christelike geloof, geskiedenis en tradisies te ontwikkel, uit te leef, te handhaaf en te bevorder met die jeug en gesonde gesinsbande as vertrekpunt.

Patriotisme en ‘n lojale samehorigheidsgevoel in eie geledere en onder almal wat die Rapportryers se grondslag en doelstellings aanvaar, te bevorder.

Leuse

Die leuse van die Rapportryers, DRAERS VAN DIE BOODSKAP, ondersteun die wese van die beweging.

Ontstaan van die Rapportryers

Met die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949 , het daar perdekommando’s van dwarsoor die land, selfs vanuit die voormalige S.W.A. en Rhodesië, na Pretoria met groeteboodskappe vertrek.

Die gedagte het by hulle ontstaan om ‘n reünie van hierdie “Rapportryers” te hou, en ‘n klub te stig vir Afrikaners, waar hulle hul Christenskap en Afrikanerkultuur kan uitleef, gesellig saam kan verkeer en net doodeenvoudig lekker kuier.

Die klub is toe die volgende jaar in die destydse bekende Bloukamer te Parkstasie in Johannesburg gestig en het bekend gestaan as die Rapportryerklub. Die klub het dinamies gegroei tot die landwye volksdiens- en kultuurbeweging, bekend as die die Federasie van Rapportyerskorpse.

Mettertyd is die Junior Rapportryers ook gestig vir manne onder 35 jaar oud. In 2000 het die Federasie van Rapportryerskorpse ontbind en saamgesmelt met die Junior Rapportryers, waarna die naam verander is na die Rapportryers.

Hoe lyk die Rapportryers Vandag?

Die RRB bestaan uit korpse wat in elke dorp of stad gevestig kan word. Daar kan meer as een korps in ’n dorp of stad wees. Korpse in ‘n provinsie werk nou saam.

Korpse hou normaalweg eenkeer per maand ’n vergadering of byeenkoms. Getrou aan tradisie word dit dikwels met ‘n vleisbraai afgesluit. ‘n Provinsiale vergadering of beraad word elke tweede jaar gehou - die jaar waarin daar nie 'n landsberaad plaasvind nie. Die provinsiale vergadering/beraad word deur soveel lede moontlik van die betrokke provinsie, bygewoon. Die voorsitter wat tydens hierdie byeenkoms verkies word, dien ook as lid van die Rapportryerraad. ‘n Raadslid word elke tweede jaar tydens die vergadering / beraad van die provinsie verkies, om in die Rapportryerraad te dien.

Die Rapportryerraad van die RRB vergader, soos omstandighede dit vereis, twee keer per jaar. Indien nodig, hou hulle ook telefoonkonferensies. Die Landsberaad, wat deur alle lede bygewoon kan word, word elke tweede jaar gehou.

Beraadgangers woon gewoonlik gesamentlik ‘n kerkdiens die Sondag by, alvorens hulle uitmekaar gaan.

Die RRB is ‘n nie-winsgewende en ’n nie-politieke organisasie. Ledegeld word van tyd tot tyd deur die Rapportryerraad vasgestel. Veteraanlede, gesinslede en lede onder die ouderdom van 27 jaar, kom in aanmerking vir ledegeldtoegewings.